Nov
22
2005

wie, waar en hoekom?

My naam is Pieter, en hierdie is my uitbundig inheems blog. My doelwit vir hierdie blog: om uitbundig te gesels oor enige iets rakende Suid-Afrika se inheemse plante, ons inheemse tuin, tegnologie en Jesus. Ek, my vrou Wilna, en ons 2 kinders, Dawid en Talita, bly tans in Edenvale in Johannesburg, Suid-Afrika.

My e-pos adres is pieter@uitbundiginheems.co.za.

Inheemse plante en tuinmaak is een van my stokperdjies (op hierdie stadium!), en ek is eintlik ‘n voltydse werknemer in ‘n heeltemal ander omgewing.

Ek het geen formele plantkunde of landskapsargitektuur opleiding nie (ek is ‘n produk van die chemiese en bedryfs-ingenieurswese departemente van die Universiteit van Pretoria, asook die informasie wetenskappe departement by die Universiteit van Stellenbosch). Ek het egter van jongs af daarvan gehou om te lees oor die planteryk, iets wat ook dwarsdeur my skool loopbaan gedoen het. En ook op universiteit was die plantkunde afdeling in die biblioteek, en UP se plantkunde afdeling (en tuin) gereelde uithangplekke. Ek het sedert my eerste staptoer in die laerskool (die Tsitsikama saam met my ouers en broers) geleidelik ‘n al hoe groter belangstelling in die planteryk en veral Suid-Afrika se inheemse plante ontwikkel.

Hierdie belangstelling is deur die jare aangehelp deur ‘n paar dinge: ‘n liefde vir die estetiese (musiek, poësie, kuns); ‘n aktiewe belangstelling in fotografie; ‘n belangstelling in taksonomie; ‘n voorliefde vir opnames en die maak van lyste; ‘n liefde vir lees. (Ek onthou dat ek op stadiums amper al 1000 bladsye van Palgrave se Trees of Southern Africa ‘n paar keer op ‘n vakansie sou deurblaai om daardie ontwykende identifikasie te doen).

Dan was daar natuurlik ook die persone (bo en behalwe my ouers, wat seker die enkel grootste invloed was) wat ‘n groot indruk op my gelaat het en my belangstelling altyd verder geprikkel het (ek noem slegs ‘n handjie vol persone): Gideon Groenewald die geoloog tydens ons eerste staptoere (gaan soek hom op vir dinosaurus fossiel uitstappies in Clarens); Wesna van natuurbewaring by Blydervierspoort; Petro Lemmer, Bets Bain en Susan Strauss van die Varing vereeniging van Suid-Afrika, John Burrows (varings), Dr. Jacobson (steeds by die varings), Hester (Engelse laerskool onderwyseres, vriendin en mede-fotograaf en ontdekker van alles wat mooi is), Russel (’n ywerige boom-man wat ons vergesel het tydens ‘n Kaapsche Hoop toer), Dr. Werner Coetzer (Pretoria - die inheemse plante op hulle plot, die boeke, die boeiende gesprekke, die uitstappies…altyd iets om oor na te dink), Prof. Kevin Balkwill (Wits: opname van swaar metale deur plante, herbarium bestuur)…

My besoek aan Prof. Balkwill het ook bygedra tot ‘n groeiende belangstelling in die chemiese ontleding van en groei van inheemse kennis (indigenous knowledge) rondom die inheemse plante van Suid-Afrika (soos wat ek tyd kry daarvoor!).

Saam met my ouers was ons ‘n paar jaar lede van die dendrologiese vereeniging van Suid-Afrika, asook ‘n geruime tyd betrokke by die varing vereeniging van Suid-Afrika, waar ek my deeglik ingegrawe het in die varings van Suid-Afrika - ‘n hoogtepunt tydperk in my lewe as ek terugdink aan uitstappies na plekke soos Devil’s Window (kan daar so iets wees?), die Kransberge en Kaapsche Hoop. En (vir my altans) historiese oomblikke soos om in die Kransberge tussen die rotse te sit en kyk na die varing Doryopteris pilosa var. gemmifera, op daardie stadium pas ontdek deur John Burrows en Susan Strauss (Bothalia 20(2): 221 (1990)).

Ons was vanaf 2000 in Vanderbijlpark, waar ons geleidelik begin het om inheemse bome, struike en ander plante in die tuin te plant. Met net meer as 100 spesies in die tuin was ons baie hartseer om te moes trek! Vandaar was ons in Germiston vir so 3 jaar en nou is ons in Edenvale.

Ek wil steeds graag Namakwaland besoek in die blomtyd. Met ‘n pas-aangeskafte nuwe 4×4 ry-ding, is die versoeking groot om nie te lank te wag nie…

Written by Pieter in: algemeen |

No Comments

Comments are closed.

RSS feed for comments on this post. TrackBack URL


Powered by WordPress | Aeros Theme | TheBuckmaker.com